Posted by: mykopop | Vrydag 27 Oktober 2023

Kom Bokke! Graveer Weer en Weer!

Asseblief!

Sing saam met my! Dra die Bokke om die Webb Ellis-Beker ‘n vierde keer te wen!

Ek het onlangs gedink om weer ‘n slag iets op hierdie blog te skryf, maar nooit so ver gekom nie. So ‘n maand terug skop Bokkoors toe in! Weens baie ander verpligtinge het ek baie gesukkel om die liedjie klaar te kry. Nou is hy hier, net 2 dae voor die tyd.

My laaste inskrywing voor hierdie een was op 3 November 2019, met die naam Die Bokke graveer toe weer. Dit was weer ‘n opvolg op “Suid-Afrika” gegraveer in rugbygeskiedenis van 21 Oktober 2007.

Dit bly maar vir my die romantiek van die graveer, met die hand, van die naam van die land op die beker, wat my geïnspireer het om iets te skryf.

Die opname beskou ek nie as baie wonderlik nie, dit sou goed gewees het om na ‘n professionele vervaardiger en ateljee te gaan, maar ek weet nou hoe lank so ‘n proses neem, en van die woorde is eers vroeër in hierdie week gefinaliseer. Ek weet die conga-drom klink maar bietjie oes op plekke en die simbaal was ‘n kastroldeksel met ‘n potlood gespeel!

Soos hy daar is, geniet dit saam met my, sing saam! Hier is die woorde:

KOM BOKKE!  GRAVEER WEER EN WEER

© 2023, Chris van der Westhuizen

Inleiding:

Wha….!   Hei….!

Wha! Wha!… Hei! Hei!

Kom Bokke, Kom Bokke, Kom!…. Kom Bokke, Kom!

Kom Bokke, Kom!

1)

Madiba, Madiba het groen en goud gedra

In neëntien vyf en neëntig, saam met Francois Pienaar

In die ekstra tyd het die Bokke gescore

Die Bokke het gedoen wat die nuwe nasie vra

Koor:

Kom Bokke, kom Bokke, ons sal julle dra

Ons is die Reënboognasie

Ons groet en glimlag saam

Kom Bokke Kom Bokke druk drieë en vervyf

Ons dra julle, ons dra julle ons dra julle aan ons lyf

Bring net asseblieftog daai beker

weer huis toe hierdie jaar

Kom Bokke, Kom Bokke, Kom!…. Kom Bokke Kom!

Kom Bokke Kom!

Bring die beker hierdie jaar!

Brug:

Kom, Bo..kke kom

Kom, Bokke graveer

Kom Bokke graveer, graveer weer en weer

Laat Suid-Afrika se naam op die Webb Ellis-Beker Staan!

2)

Solied is die silwer met goue blad beslaan

Dit is mos glo vernoem na ‘n jollie Engelsman

Hy sit plots eendag met die voetbal op loop

Die nuwe Rugby-spel se tradisie breek toe aan

HERHAAL KOOR

Finale:

Kom, Bo…kke kom

Kom, Bokke graveer

Kom Bokke graveer, graveer weer en weer

Laat Suid-Afrika se naam op die Webb Ellis-Beker Staan!

Kom Bokke Kom Bokke Kom!…. Kom Bokke Kom!

Kom Bokke Kom!

Posted by: mykopop | Sondag 3 November 2019

Die Bokke graveer toe weer!

Ek kon niks onthou van ons vorige wêreldbekerwen nie.   Tot hulle sommer ‘n paar minute voor die tyd begin het om “South Africa” op die Webb Ellis-trofee te graveer!

Onthou?

“Suid-Afrika” gegraveer in rugbygeskiedenis

 

metmondfluitjie

Posted by: mykopop | Woensdag 2 Oktober 2019

Dans op Yzerfontein

My eerste besoek aan Yzerfontein was maar eers in 2012, as ek reg onthou.  ‘n Vinnige indraai om op die hawemuur te staan en kyk en foto’s van die dolfyne te neem.

Laas Desember het ons dit behoorlik gedoen en ‘n week daar vakansie gehou, wat tot ‘n nuwe liedjie gelei het.

Lekker dans op Yzerfontein

Posted by: mykopop | Sondag 25 November 2012

Voortaan

Voortaan sal ek hierdie Nikon D3200 gebruik om foto’s te neem en te deel.  Dis wat ek gedink het toe ek besig was om allerhande dinge te probeer met die nog effens onbekende instrument, en later voor die spieël beland het.

Maar sedert Laurika Rauch se album “Die Gang” in 1992 verskyn het, sou die woord “voortaan” voortaan nooit weer dieselfde wees nie!  Nooit sal ek weer die woord “voortaan” kan hoor, lees of gebruik sonder om te dink aan die liedjie Vir ‘n Pepermossie  (woorde deur Willie van der Merwe, musiek deur Laurinda Hofmeyr), wat so begin

        Voortaan sal ek winterskemer vleilangs loop
        en droë takkies van geraamtestruike stroop…

Posted by: mykopop | Maandag 12 November 2012

Bloudruk

Dit gaan druk met my op die oomblik by die werk.  En by die huis is ek ook soos gewoonlik besig met ‘n hele paar dinge gelyk.  Laas naweek het ek bietjie verveeld in ‘n CD-winkel rondgeloop en die CD van Johannes Kerkorrel teen ‘n afslagprys raakgeloop.  Ja, het ek gedink, ek het nog geen CD’s van hom nie en wil graag al sy CD’s versamel, en dit gekoop.

Soos ek gewoonlik maak, aangesien ek min tyd kry by die huis om te luister, het ek dit in my kar gesit.   Ek het intussen net so tot by die vierde snit gevorder, want dikwels wil ek nog die nuus ook eers hoor en ek ry gelukkig nie baie lank werk toe en terug nie.  Hierdie naweek het ek die CD se houertjie uit die kar gehaal om dit verder in die huis te luister, maar toe later agtergekom die CD sit nog in die karradio.

Vanmôre in die kombuis hoor ek Cobus Bester sê Johannes Kerkorrel is vandag 10 jaar oorlede.   Hy het toe “Hillbrow” op die lug gespeel. Toe gaan vat ek die CD-houertjie en sit dit ook weer in die kar.  Dit was toe mooi amper 7-uur en op pad werk toe het ek eers die nuus ens. geluister.

Onder die afdakke by die werk het ek toe weer na die snitte begin kyk.   Onder die eerste vier was daar twee grotes: Halala Afrika en Somer.  Verder het ek tot dusver nie eintlik name gesien wat vir my bekend was nie.  Toe sien ek die tweede laaste snit is Hoe Ek Voel, en ek herken dit van ‘n CD van Amanda Strydom.  Ek het dit gesit en luister, en was hartseer dat ons hom so gou moes verloor.  Jammer dat ander mense se vooroordele en veroordeling daartoe gelei het dat ons so ‘n talentvolle bydraer tot ons liedjieskat so vroeg moes verloor.

hier kom die somer, die son
hier kom die somer, die son
dae soos heuning
warm en lou

branders rol in by die see
branders rol uit by die see
en hoog in die lug
dryf die meeue rond

ons kan gaan sit by die karosel
onder ‘n sambreel al die skepe tel
later gaan ons ver oor die wit sand loop
en kyk as die son sak in die blou see

Older Posts »

Kategorieë